Fasiliteite

Die Markgraaffsaal
Die Cerffsaal
Die Spangenbergsaal
Koshuis
sportgronde
klubhuis
Advertensieborde

Die skool beskik oor pragtige, goed toegeruste fasiliteite. Benewens die skool se eie gebruik, skep dit die geleentheid om broodnodige, eksterne fondse deur verhurings in te samel. Geleë in ‘n  veilige, mooi omgewing en met voldoende parkeerruimte, goeie sekuriteitsreëlings, twee lugverkoelde sale en billike tariewe, is Diamantveld ‘n gewilde keuse vir die aanbied van verskeie geleenthede.

Die Markgraaffsaal in die Sport- en Kultuursentrum is baie veelsydig en dien onder andere as ‘n konferensiesentrum. Die vrolike agtergrondsklanke van kinderstemme gee ‘n ietwat ander “kleur” aan ‘n daglange opleidingsessie of vergadering! Voeg daarby smaaklike etes en tuisgemaakte versnaperings en kliënte keer terug.  

Die Cerffsaal is ideaal vir groter groepe en staan tydens die Gariepfees ook as die Diamantveld-teater bekend. Verskeie toneelstukke en musiekproduksies word jaarliks hier op die planke gebring. Die saal word egter veral vir opleidingsessies gebruik. Nie net is dit provinsiaal in aanvraag nie, maar nasionale geleenthede is ook al hier aangebied. Tydens opleidingsessies word daar dikwels ook klaskamers (saam met of sonder die Cerffsaal) verhuur.

Die Spangenbergsaal in die hoofgebou leen homself uitstekend tot ‘n uitstallingsruimte. Dit word onder andere gebruik vir uitstallings van juwele, matte en boeke. Dit is ook die ideale plek vir loopbaanuitstallings en ekspo’s.

Die twee koshuise is gereeld in aanvraag en daar is weinig vakansies en/of langnaweke waartydens die koshuise leegstaan. Die koshuisouers en –personeel  sien om na besoekers se welsyn en die knap kombuisspan sorg vir die spys en drank. Daar is ‘n aantal woonstelle en kamers met badkamers by die koshuise ingerig. Dit word privaat verhuur.

Diamantveld se mooi sportgronde is die afgelope paar jaar dikwels op TV gesien. Daar is gereeld navrae in verband met die huur van dié velde. Dit word meestal vir sportdae, spanbou-aktiwiteite, toernooie en skoue gebruik.  In 2012 het die SAPD die velde vir Nasionale Polisiedag gehuur en in 2013 het ABSA en Microsoft die velde vir die bekendstelling van hul nuwe produkte vir besigheidslui, gebruik. Tydens sulke geleenthede verskaf die skool ook die spyseniering.

Aangrensend tot die pawiljoen, is die klubhuis. Dit is ‘n gewilde keuse  by die aanbied van informele geleenthede en daar word spesifiek in ‘n verskeidenheid van vleisbraaibehoeftes voorsien.

Die skool en velde vorm ‘n pragtige agtergrond  vir advertensieborde.  Verskeie opsies kan deur voornemende adverteerders oorweeg word.   Sigbaarheid in die regte geselskap is die wenresep vir Diamantveld se advertensie-vennote.



Kliek op die fasiliteit hieronder om 'n e-pos te stuur sou jy belangstel om een van ons fasiliteite te huur: